YouVersion Logo
Search Icon

Plan Info

Spreuke – eenjaarleesplanSample

Spreuke – eenjaarleesplan

DAY 1 OF 365

Inleiding Die spreuke is versamel in bundels waarvan ses in die boek Spreuke is, soos ’n mens telkens in die eerste vers van só ’n bundel lees. 1\. Spreuke 10:1-22:16 is die eerste bundel spreuke van Salomo 2\. Spreuke 22:17-24:22 is die eerste bundel gesegdes van die wyses 3\. Spreuke 24:23-34 is die tweede bundel gesegdes van die wyses ­ 4\. Spreuke 25:1-29:27 is die tweede bundel spreuke van Salomo 5\. Spreuke 30:1-22 is die belangrike uitsprake van Agur 6\. Spreuke 30:1-31 is die woorde van Lemuel se ma ’n Inleiding (Spreuke 1:1-7) wat die doel van die boek uiteensit en al die spreuke van die boek as uitvloeisel van die ontsag en eerbied vir God skets, is vir elkeen van hierdie bundels geskrywe. Hierna volg 'n hele aantal wysheidsgedigte in die vorm van ’n langerige gesprek met frases soos: "My seun, jy moet luister ...” (Spreuke 1:8-9:18) waarvan ons aflei dat dit gaan oor ’n pa wat sy seun in tien “ lewenslesse ” onderrig. Spreuke 1:1-7 Spreuke beklemtoon in die eerste plek dat wysheid van God af kom. In alles moet jy dus met God begin. Spreuke wil jou ’n kundige in die lewe maak. Die boek wil jou vermoë vir wysheid ontwikkel, sodat jy met wysheid kan optree. Dit sal jou op die volgende maniere help: · Om te weet wanneer iemand verstandig praat (Spreuke 1:2) · Om ’n sin vir regverdigheid te ontwikkel (Spreuke 1:3) · Om met oorleg op te tree (Spreuke 1:4) · Om tot dieper insig te kom (Spreuke 1:5-6) · Om nie toe te gee as daar verleiding of dwaasheid oor jou pad kom nie (Spreuke 1:7). Die klem op kennis en oorleg in vers 4 tref ‘n mens. Let op dat dit nie teoreties bedoel word nie, maar prakties . Dit gaan ook nie net oor kennis as sodanig nie, maar oor kennis en oorleg. Oorleg kan ook vertaal word met oordenking of beraadslaging . Dit veronderstel ’n deurdink van die implikasies en betekenis van kennis saam met ander mense en nie net op jou eie nie, soos Spreuke ook later in hoofstuk 11:14 ten opsigte van leiers en die gemeenskap redeneer. Kennis en oorleg is dus nodig om reg te kan optree. Hierdie soort wysheid is vir die lewe saam met ander bedoel! Dieselfde geld vir 'n sin vir regverdigheid en billikheid in vers 3. Dit is iets wat jy aanleer. Dit is iets wat jy beoefen. Dit is iets waarin jy groei. Maar dit is ‘n leerervaring wat met die gemeenskap te doen het. Dit is immers waar jy regverdigheid moet beoefen. En dit is die basis van ’n goeie en behoorlike opvoeding – dat jy reg optree in die gemeenskap, teenoor God en ander. Die eerste ding wat 'n mens moet leer om hierdie soort wysheid te bekom, begin egter nie met die gemeenskap as sodanig nie, maar met die "vrees van die Here" wat in vers 7 vertaal word met "die dien van die Here” (AFR83). Hierdie vrees kan ook vertaal word met ontsag vir die Here, wat die bedoeling van die vers beter verwoord. Die soort kennis wat Spreuke dink die moeite werd is, begin met die bewussyn en ontsag vir die Here. Sonder hierdie ontsag vir God raak jy eintlik self god en draai jou lewe te maklik net om jouself. Om die waarheid te sê, sonder ontsag vir God raak dit ook vir jou moeilik om na ander te luister, veral na die rolmodelle wat met ontsag vir God lewe. Die Afrikaanse Bybel vir Almal (ABA) vertaal daarom vers 7 met: "Jy moet gehoorsaam wees aan die Here en jy moet Hom respekteer. As jy dit doen, dan is jy regtig slim . " Dit is ook die oorhoofse beginsel vir alles wat Spreuke gaan sê en waarin die wysheid ook opgesluit lê. Soos kennis by die ontsag vir die Here begin, so begin wysheid ook daarmee (Spreuke 9:10). Spreuke moedig jou dus aan om beproefde wysheid te beoefen. Beproefde wysheid bring insig, onderskeiding en oorleg. Besluit om jou gedagtes en gedrag vanjaar deur die beproefde wysheid van Spreuke te laat vorm. Dra jou reis met hierdie boek aan die Here op.

Scripture

Day 2

About this Plan

Spreuke – eenjaarleesplan

Lees die boek Spreuke in 365 dae deur met hierdie leesplan. Daar is ’n spreuk vir elke dag met ‘n kort beskrywing van die betekenis daarvan. So sal jy ‘n goudmyn van Godgegewe slagspreuke vir jou eie persoonlike lewe ont...

More

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy