YouVersion Logo
Search Icon

Plan Info

Spreuke – eenjaarleesplanSample

Spreuke – eenjaarleesplan

DAY 4 OF 365

Die pa gaan voort met sy eerste lewensles deur wysheid voor te stel as 'n vrou na wie 'n mens moet luister. Dat die wysheid as vroulik voorgestel word, is interessant en sluit aan by dieselfde gebruik in ander wysheidstradisies (Grieks en Romeins), waarskynlik omdat die hele idee van koestering, vertroeteling en omgee meer geredelik met vroue geassosieer word. In die vroeëre Egiptiese wysheidstradisies is wysheid egter ook met Sia (of Saa) geassosieer, wat manlik uitgebeeld word. Dit is ook só in die ander Oosterse tradisies van Boeddhisme en Taoïsme. Belangriker is egter dat die wysheid regdeur Spreuke as die stem van God self voorgestel word. Dat dit vroulik is, ondersteun die gedagte dat God nie slegs in ’n manlike idioom vasgevang kan word nie en dat die beskrywing van God beide manlike en vroulike metafore insluit. Let op dat juis die mense wat geneig is om nie te luister nie, eerste aangespreek word. Drie soorte mense word in vers 22 aangespreek: · onkundiges · spotters/grootpraters · dwase/swape Die Nuwe Lewende Vertaling (NLV) vertaal dit so: " Hoe lank gaan julle domkoppe nog bly klou aan julle domheid? Hoe lank gaan die spotters aanhou met hulle gepratery? Hoe lank gaan die swape kennis bly verwerp ?" Dis interessant dat die spotters as arrogante vrydenkers, wat die regverdiges teenstaan, voorgestel word, dit wil sê, as dié wat God wil dien teenoor dié wat vir Hom ontsag het. ’n Mens kan hulle vandag nog herken! Die waarde van luister sowel as die gevolge van nie-luister word uitgespel. Luister bring veiligheid. Nie-luister bring vernietiging: "...die selfversekerdheid van dwase vernietig hulle" (Spreuke 1:32 AFR20). Ook Psalm 1 sê dat geluk en voorspoed op die pad van die regverdiges lê en verydeling en verwoesting op die pad van die goddeloses, die ligsinniges en sondaars. Dis 'n motief wat regdeur die Psalms gehandhaaf word. God lei die regverdiges en Hy laat die onregverdiges aan hulle eie lot en beplanning oor. Terloops, Sokrates het gesê dat wysheid op drie maniere aangeleer word: deur refleksie (dit is die beste), nabootsing (dit is die maklikste) en ervaring (dit is die moeilikste). Iets om oor na te dink! Die pa moedig dus sy seun aan om die teregwysing van die Woord te aanvaar, want dit sal die verstoppings in sy lewe verwyder, sodat God se wysheid soos 'n lewegewende stroom na hom sal vloei. Die Woord maak soms seer om jou van binne en buite te kan genees.
Day 3Day 5

About this Plan

Spreuke – eenjaarleesplan

Lees die boek Spreuke in 365 dae deur met hierdie leesplan. Daar is ’n spreuk vir elke dag met ‘n kort beskrywing van die betekenis daarvan. So sal jy ‘n goudmyn van Godgegewe slagspreuke vir jou eie persoonlike lewe ont...

More

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy