YouVersion Logo
Search Icon

Plan Info

Wie jy isSample

Wie jy is

DAY 2 OF 4

Dag 2 As jy net daardie lastige vyf kilogram kan afskud. As jy net jou hare so bietjie langer gegroei kan kry. As jy net nog ‘n graad kon hê. As jy net van die égte leerstewels kan aankoop. As jy net vroeër met ‘n plooiroompie begin het. As jy net in die groot huis langs die dam kon woon. As jy … Ons almal het ‘n paar “as jy” sêgoed wat ons van tyd tot tyd koggel. Ons het gister die ontdekkingsreis na die ware jy begin, deur te probeer identifiseer of daar enige leuens is waarmee jy saamleef. Leuens wat op allerhande maniere in jou gedagtes kom nesskrop het, deur omstandighede of mense wat jou dinge oor jouself laat glo, wat nie die waarheid is nie. Net so is daar egter ook “as jy” dinge wat jy van jouself glo. Dinge wat jou laat glo as jy hiérdie prestasie kan bereik of dáárdie item kan hê, sal jy gelukkiger, gesonder en suksesvoller wees. Dit is die leuens wat ons onsself wysmaak. Soms is dit juis die moeilikste om van hierdie gedagtes weg te breek en by ‘n punt van selfaanvaarding te kom, die beste te maak van hoe jy nou lyk en wat jy tans het. Dit beteken nie dat ons nie moet streef na beter prestasies en gesonder lewenswyses nie. Nee, ons moet altyd aanhou droom! Ons moet altyd daarna strewe om die beste uit die lewe te haal – ons liefdevolle Vader gee vir ons lewe in oorvloed. Jy kan egter jou huidige lewe van oorvloed mis net omdat jy met die begeerte leef van hoe jy sou wou hê jou lewe moes wees. Hoekom maak jy nie nou die beste van wat jy het nie? Dit is al wat jy weet jy vir seker het. Soek jou sprankel Om die beste te maak van wie jy nou is, is ‘n doelbewuste besluit. Dit is ‘n besluit om jou gedagtes te vernuwe en jou fokus te verskuif na dit wat positief en suksesvol is. Sien jou mooi oë raak as jy weer by die spieël verbystap. Kyk net hoe mooi lyk jy in jou gunsteling rok. Soek weer die bewondering in jou man se oë as jy in die vertrek instap. Voel jou kind se warm asempie in jou nek as sy vir mamma soek. Luister mooi na die komplimente wat jy kry, en vat dit vir jou. Jy maak ‘n groter impak in jou omgewing as wat jy dink. Soek die sprankel wat uniek en spesiaal aan jou is! Kom ons raak prakties: \- Wat is die “as jy” dinge in jou lewe? Dink ‘n bietjie na oor al die dinge wat jy jouself wysmaak jy eers moet doen of hê, voordat jy voluit kan leef. \- Waarvan hou jy in jouself? Wat is daar in jou lewe waaroor jy gelukkig en opgewonde voel? Gebed: Abba Vader, U is my skepper. U het my aanmekaar geweef en unieke kwaliteite vol sprankel in my menswees geplant. Help my om ‘n gevoel van tevredenheid en dankbaarheid oor myself te bereik. Ek is so jammer dat ek soms dink alles sal beter wees as dinge anders is. Ek wil leer om die beste te maak van wat ek het en wie ek is. Help my om ‘n lewe van oorvloed te leef. In die naam van Jesus. Amen.
Day 1Day 3

About this Plan

Wie jy is

Dit is so maklik om onsself te verloor. Ons sien perfekte modelle in tydskrifte, het ‘n konstante stryd met die skaal en moet saamleef met die verwagtings wat almal (en onsself) aan ons stel. Dit word dan soms die dinge ...

More

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy