YouVersion Logo
Search Icon

PSALMS 25:1-22

PSALMS 25:1-22 AFR83

Van Dawid. Tot U, Here, rig ek my, my God, op U vertrou ek. Laat my vertroue tog nie tevergeefs wees nie, laat my vyande nie juig oor wat met my gebeur nie. Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie. Dié wat nie op U vertrou nie, hulle kom in die skande. Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting. Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van altyd af betoon het. Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie. Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is. Die Here is goed en regverdig: Hy wys selfs vir sondaars die pad aan, Hy laat aan hulpeloses reg geskied en Hy leer hulle sy pad. Liefde en trou is die paaie wat die Here bewandel met dié wat sy verbond en verordeninge bewaar. Ter wille van u Naam, Here, vergewe my my sonde, want dit is groot. As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies, sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon. Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend. My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou. Sien my in genade aan, Here, want ek is eensaam en verstote. Ek verkeer in die allergrootste nood; bevry my tog uit my ellende. Kyk hoe sleg gaan dit met my en hoe swaar kry ek. Vergewe tog al my sondes. Kyk hoe baie vyande het ek en hoe fel haat hulle my. Beskerm my en red my, laat my nie beskaamd staan nie, want by U skuil ek. Laat onskuld en opregtheid oor my die wag hou, want op U vertrou ek. O God, red Israel uit al sy nood.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy